Onteiening: Kaptein Ahab jag steeds sy walvis

Paul Maritz

Deur Paul Maritz, Free SA direkteur

Naby aan die einde van Herman Melville se 1851 meesterstuk, as dit vir almal aan boord duidelik geword het dat kaptein Ahab se obsessie met Moby Dick se dood tot hulle almal se einde gaan lei, skreeu sy eerste stuurman, Starbuck, vir hom: “Dit is nog nie te laat nie, selfs nou, op die derde dag, om op te hou. Kyk! Moby Dick soek nie vir jóú nie. Dit is jý, jý, wat hom waansinnig najaag!”.

Ahab se antwoord, die woorde wat die Pequod en sy ganse bemanning verdoem, spreek in hierdie geval werklik boekdele: “Ek sou selfs die son tref as dit my beledig het”. En so ken ons kaptein Ahab: Die vasberade kaptein wat eerder die hele skip en al die bemanning sal opoffer as om te erken dat sy plan onkundig was, die trotse leier wat sy skip sal laat sink voordat hy sy duidelik mislukkende idee sal laat los.

Daar is geen beter greep in die letterkunde, ten minste nie in dit wat ek al gelees het, wat die ANC se benadering tot sogenaamde grondhervorming beter saamvat as die karakter van kaptein Ahab nie. Kom wat wou, selfs die son sal ek tref as dit my durf beledig. Kom wat wou, my hele bemanning sal ek opoffer, maar dáái walvis sal ek jaag tot hy betaal het wat ek glo hy my skuld.

Die ANC se verbete obsessie met onteiening sonder vergoeding is toe al die tyd nie net ʼn politieke voetfout nie – dit is ʼn dodelike ekonomiese dwaling. Elke teken, van die markte tot diplomatieke korridors, dui daarop dat hierdie beleid nie ʼn regstelling van die verlede is nie, maar ʼn afgrond vir die toekoms.

Terwyl die regering ons keer op keer daarvan probeer oortuig dat hierdie beleid ʼn noodsaaklike maatreël vir grondhervorming en welvaart is, leer die geskiedenis ons dat dit telkemale veel eerder armoede te weeg sal bring. Onteiening lei tot kapitaalvlug, afname in beleggings, en verergering van ekonomiese ongelykheid, eerder as daardie nagmerrie in dagdroom-gewaad van absolute, rewolusionêre gelykheid. Die onlangse reaksie van die VSA en die Britse-Australiese gemeenskap teen Suid-Afrika se onteieningsbeleid is maar net nog iterasies in die lang reeks internasionale waarskuwings dat onteiening as beleid tot die vervreemding van ou en belangrike bondgenote sal lei.

Die ironie is skreiend: in die naam van sogenaamde ekonomiese geregtigheid dryf die ANC beleid wat homself keer op keer bewys het as een wat uiteindelik die mees kwesbares die hardste tref. Wie ly eerste onder ʼn verkrimpende ekonomie? Nie die politiekers in hul luukse voertuie nie, maar die werkersklas, die armste van die armes, die miljoene wat reeds sukkel om kop bo water te hou.

Eiendomsreg lei tot welvaart

Free SA het verlede week ʼn verslag gepubliseer wat onomwonde uitwys dat sterk eiendomsregte ʼn kernbestanddeel van nasionale voorspoed is. Een van ons sleutelbronne vir hierdie verslag was die Internasionale Eiendomsregindeks (IPRI). Die 2024 IPRI toon ʼn duidelike korrelasie tussen swak eiendomsbeskerming en ekonomiese stagnasie, politieke onstabiliteit en dalende menslike ontwikkeling.
Lande soos Venezuela, Zimbabwe en die Demokratiese Republiek die Kongo dien as duidelike voorbeelde van die katastrofiese gevolge van onteiening sonder vergoeding. Suid-Afrika se besluit om ʼn soortgelyke pad te loop, plaas ons in gevaar om die foute wat voor ons gemaak is nie net te herhaal nie, maar daarop te bou, en die lesse van die geskiedenis soos vakansiehuiswerk summier onder die bed in te skop.

Hoekom leer ons dan nie? Die antwoord lê grotendeels in ideologiese blindheid – ʼn regering wat vasgevang is in sy eie retoriek, wat die wêreld nog steeds sien deur die lens van ʼn bevrydingstryd en nie ʼn mededingende globale ekonomie nie. As eiendomsregte só belangrik is vir sukses, waarom dan hierdie onverbiddelike dryf om dit te ondermyn? Dit is die vraag wat elke rasionele waarnemer moet vra.

Sterk eiendomsregte is die sleutel tot beleggingsvertroue, en min lande het beleggingsvertroue al ooit so nodig gehad soos Suid-Afrika, wat reeds ons jaarlikse welsynkoepon van die VSA af kwyt is. Indien ons NDR-agter-ʼn-RNE-masker-regering sy huidige koers volhou sal lande soos Australië en Brittanje ook binnekort hul beleggings in ʼn ander rigting stuur. Waarom sal enige besigheid in ʼn land belê wat aktief ʼn plofbare politieke situasie najaag, en beleid skryf wat dit verseker?

Dít is die kern van die saak: Suid-Afrika wil buitelandse beleggers lok terwyl dit terselfdertyd ʼn beleid voer wat belegging onmoontlik maak. Dit is soos om gaste na ʼn ete te nooi, maar dan die voordeur te sluit en die kos in die vuur te gooi.

Die ANC se beleid is die oorsaak

Ondanks heelwat stemme in en om die ANC se pogings om ons daarvan te oortuig dat burgerregteorganisasies agter ons groeiende diplomatieke krisis sit, het die ANC net een party om te blameer, en dit is homself. Hierdie krisis is primêr ʼn krisis van beleid, en die misbruik daarvan om mislukkende politieke prestasie te verdoesel.

Die waarheid is ongemaklik vir die regering: Hy het nie sy beloftes nagekom nie. Grondhervorming kon suksesvol wees met regverdige, markgedrewe oplossings, maar dit is nooit behoorlik aangepak nie want dit het onder wanadministrasie en korrupsie gebuk gegaan, waar baantjies (maar hoofsaaklik plase) vir boetjies uitgedeel is in stede van volhoubare landelike ontwikkeling. Nou moet ʼn radikale beleid as rookskerm dien vir ʼn kwarteeu van planloosheid.

Benewens korrupsie op ʼn skaal wat wêreldwyd ongekend is, het die ANC se beleid sedert 1994 te gedurig nie tred met die realiteit gehou nie. Hoeveel geleenthede tot ekonomiese groei en algemene welvaart is in die naam van korrupsie en party-eerste-denke te pletter geslaan? Hoeveel pogings om landbouaktiwiteite onder swart eienaars te bevorder is, soos die Estina-melkplaas, geplunder en gestroop van alle bewegende dele, net sodat die plunderaars op ʼn tiekie kan draai en burgerregteorganisasies beskuldig?

Tot dusver kon die ANC daarmee wegkom – die kapitaal van geskiedenis was aan hulle kant, hulle was die party van Mandela, die party waaroor films gemaak is, en waarvoor konserte gehou is. Wat die afgelope weke vir die ANC nog swaarder maak, is die duidelike ommekeer van die internasionale gemeenskap. Die sagte diplomasiehandskoentjies waarmee Suid-Afrika vir drie dekades hanteer is, is deurgedra, en die sosiohistoriese kapitaal is opgebruik.

Kan ʼn mens burgerregteorganisasies werklik verkwalik dat hulle hul lot internasionaal gaan bekla nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekomissie in 2019 besluit het dat Kill the Boer, die mees ondubbelsinnige dreunsang denkbaar, nie haatspraak is nie? Sekerlik nie.

Die ware slagoffer is Jan Alleman

Dit is maklik om te dink dat die slagoffers van onteiening sonder vergoeding in die eerste plek die boer en die plaasgemeenskap is, maar die ry slagoffers van een plaas wat misluk is lank en treurig. Sodra ʼn plaas se produktiwiteit sneuwel, verlaag die bruto hoeveelheid kos in die stelsel. Die afname in aanbod te midde van ʼn konstante toename in vraag, namate die bevolking groei, kan net een gevolg hê: Toename in pryse. Kort op sy hakke volg laer lewensstandaarde met hongersnood nog ʼn kortkoppie verder terug.

Die Britse-Australiese gemeenskap trek laer

Die reaksie van die Britse-Australiese gemeenskap, wat ʼn opskorting van Australiese hulp aan Suid-Afrika oorweeg, wys dat die effek van hierdie beleid reeds internasionaal voelbaar is. Die VSA het reeds alle hulp gekanselleer totdat ʼn deeglike ondersoek na onteiening sonder vergoeding gedoen is. Dit is ʼn duidelike waarskuwing aan die Suid-Afrikaanse regering dat internasionale samewerking en ekonomiese ondersteuning in gevaar is.

As ander lande soos die Europese Unie of Kanada soortgelyke maatreëls instel, kan Suid-Afrika se toegang tot noodsaaklike buitelandse direkte belegging en handelsvoorregte dramaties afneem. Die land se ekonomiese toekoms hang aan ʼn draadjie.

Beleidshervorming is die beste pad vorentoe

Die enigste manier om hierdie krisis te vermy, is deur ʼn beleidsomkeer. Internasionale praktyke toon dat grondhervorming suksesvol kan wees sonder om eiendomsregte te skend. Suid-Afrika moet na markgerigte oplossings kyk wat beleggingsvertroue behou en produktiwiteit verhoog.

Lande soos Maleisië en Suid-Korea het ekonomies gegroei deur markgedrewe grondhervorming en nie deur staatsingryping sonder vergoeding nie. ʼn Regering wat werklik vir sy mense se belange omgee, sal erken dat die pad van onteiening sonder vergoeding ʼn doodloopstraat is.

Beleidsverandering is die enigste realistiese opsie om langtermyn ekonomiese stabiliteit en groei te verseker.
Gevolgtrekking Suid-Afrika se beleid van onteiening sonder vergoeding is nie net ʼn bedreiging vir eiendomsreg nie, maar ook vir die land se ekonomiese voortbestaan. Die verwoede strewe na onteiening sonder vergoeding kan net een uiteindelike uitwerking te weeg bring, en dit is nie die utopie waarvan Marx gedroom en geskryf het nie. Die ware uiteinde is eerder ʼn verdrinkende bemanning, ʼn vernietigde skip, en ʼn kaptein wat in die naam van verlies in sy jeug sy ganse toekoms opgegee het, nou snel op pad onder toe, met geen kans op herstel nie.

Kaptein Ahab het ten minste net sy eie bemanning vernietig. Die ANC, aan die ander kant, neem ʼn hele nasie saam die diepte in.

About FREE SA

At the Foundation for Rights of Expression and Equality (Free SA) we are committed to empowering South Africans to have their voices heard.

In a true democracy, every opinion counts, and we ensure your voice resonates where it matters most: in Parliament, in public policy, and in the laws that shape our country.

From advocating for democracy and equality to holding the government to account, we stand with you to demand transparent, responsive, and fair governance that serves its people.

Active Campaigns

Through our public participation campaigns, we ensure your voice is heard where it matters most—in Parliament and beyond. 

Fuel the movement. Empower change.

Your contribution ensures that FREE SA can continue to fight for your rights. From public awareness campaigns to legal battles, every rand helps us protect democracy and equality. 

Stay informed. Stay empowered.

Sign up for our newsletter to get the latest campaigns, polls, and updates on our advocacy efforts, sent directly to your inbox.