Skip sonder ʼn roer

Reuben Coetzer

Deur Reuben Coetzer, woordvoerder vir Free SA

Werkloosheid in Suid-Afrika is soos ʼn skip wat stadig sink terwyl die bemanning aanhou water uitskep met te klein emmers – waarskynlik ʼn spreekwoordelike Titanic, wat verdoem is tot ʼn sekerlike einde tensy drastiese ingryping plaasvind.

Ja, die amptelike werkloosheidsyfer het in die vierde kwartaal van 2024 afgeneem na 31,9%, ʼn geringe verbetering van die vorige syfers van 32,1%, maar is steeds ʼn skrikwekkende syfer in vergelyking met die wêreldgemiddeld van 5%. Tog, in plaas daarvan om die lek in die romp te herstel en die skip weer seevaardig te maak, klou die regering vas aan sy ou truuks: om méér mense in die staatsdiens in te neem en nóg welsynsprogramme aan te kondig.

Wat op die oppervlak lyk soos ʼn daadwerklike poging om die land se werkloosheidskrisis te bestry, is in werklikheid niks anders as ʼn poging om water met ʼn sif te skep nie. Die ware probleem – die gebrek aan ʼn gesonde, groeiende privaat sektor – word nie aangespreek nie. Suid-Afrika is vasgevang in ʼn bose kringloop waar die regering die private sektor se potensiaal beperk, en dan hierdie ekonomiese stilstand as regverdiging gebruik om sy eie invloed uit te brei.

Die swart gat van ekonomiese groei

Die staat is reeds een van die land se grootste werkgewers, met sowat 9% van die arbeidsmag wat direk in die openbare sektor werk en ʼn verdere klomp wat afhanklik is van regeringskontrakte. Maar in teenstelling met die verwagting dat ʼn groter staatsdiens tot ʼn meer dinamiese ekonomie sou lei, het dit eerder ʼn struikelblok geword. Hoë staatsuitgawes plaas ʼn onhoudbare druk op die fiskus, verhoog belasting, lei tot toenemende lewenskostes en skrik plaaslike en buitelandse beleggers af.

Die werklikheid is dat die privaat sektor reeds 73,3% van alle werkende mense in diens neem. Maar sy vermoë om meer mense in te neem, word belemmer deur ʼn oerwoud van regulasies, politieke en beleid onsekerheid – en ʼn energiekrisis wat dit amper onmoontlik maak om ʼn besigheid volhoubaar te bestuur. Dit skep ʼn paradoks: die staat sê hy moet groei om ʼn swak privaat sektor te stabiliseer, terwyl die privaat sektor swakker word juis omdat die staat te groot is en die mark verstik. Dit is ʼn tipiese hoender-en-eier dilemma – maar een wat ons nie kan bekostig om te ignoreer nie.

En tog, in plaas van om ʼn meer besigheidsvriendelike omgewing te skep, brei die regering sy invloed uit en tree as spreekwoordelike hekwagter op om die privaat sektor toegang tot geleenthede en groei te belemmer. Dit is asof ʼn kaptein sy skip probeer regkry deur nóg mense op ʼn reeds sinkende dek te laai, eerder as om die lekkasies te herstel en van oorbodige vrag ontslae te raak.


ʼn Staatsgebaseerde ekonomie?

As ons ʼn suksesvolle bloudruk soek vir volhoubare ekonomiese groei, moet ons kyk na lande soos Singapoer, Suid-Korea en Hongkong. Hierdie ekonomieë het ʼn ander benadering gevolg: hulle het eerder hul regulasies vereenvoudig, besighede aangemoedig en ʼn besigheidsvriendelike klimaat geskep en infrastruktuur van wêreldgehalte gebou. Hulle het nie eenvoudig mense by die staat ingeneem om hul werkloosheidsyfers te verdoesel nie – hulle het ʼn klimaat geskep waarin werk spontaan ontstaan het deur die aanmoediging van privaat mededinging en kompetisie.

Sommige wys graag na Skandinawië as bewys dat ʼn sterk staat wel kan saamgaan met ʼn suksesvolle ekonomie. Maar die verskil is dat daardie lande hul rykdom deur dekades van ekonomiese groei opgebou het voordat hulle ʼn uitgebreide welsynstelsel kon bekostig, wat buitendien later afgeskaal is. Suid-Afrika probeer egter die wa voor die perde span: ons wil ʼn Skandinawiese staat hê sonder ʼn Skandinawiese ekonomie. En dit is bloot onvolhoubaar en is bestem om op ʼn ramp uit te loop.

Die Skandinawiese lande het ʼn hoogs produktiewe arbeidsmag, uiters doeltreffende regeringsinstellings, hoogs ontwikkelde infrastruktuur, ʼn kultuur van lae korrupsie en hoë sosiale vertroue. Suid-Afrika het, tragies genoeg, presies die teenoorgestelde: ʼn staatsdiens wat dikwels verstrengel is in korrupsie, ʼn gebrekkige onderwysstelsel, ʼn verswakkende belastingbasis, en ʼn arbeidsmark wat sukkel om selfs die mees basiese vaardighede by werksoekers aan te wakker.


Die stil krisis van welsyn

Nog ʼn duidelike teken dat Suid-Afrika se ekonomiese skip sukkel, is die dramatiese toename in die aantal mense wat van die regering se maatskaplike welsynsprogramme afhanklik is. In 2003 was net 12,8% van individue en 30,8% van huishoudings op welsyn aangewese. Vandag is dit onderskeidelik 39,4% en 50%. Dit beteken dat byna die helfte van die land se huishoudings ten minste gedeeltelik van die staat afhanklik is om te oorleef.

Wat ʼn noodhulpmaatreël moes wees, het ʼn permanente instelling geword. Soos Ronald Reagan beroemd gesê het: “Nothing lasts longer than a temporary government program.” Die covid-19-maatskaplike-noodlenigingsfonds (SRD) was veronderstel om net ʼn tydelike maatreël te wees. Nou is dit ʼn semi-permanente werklikheid, met min politieke wil om dit uit te faseer. Hoekom? Omdat gratis geld stemme wen.

Die gevaar lê nie net daarin dat te veel mense afhanklik word van die staat nie, maar dat dit ʼn kultuur van afhanklikheid skep waar mense aangemoedig word om hul ekonomiese aktiwiteit te verberg, eerder as om selfstandigheid na te streef. Dit is nie ʼn brug na ekonomiese vryheid nie, maar eerder ʼn vangnet wat al hoe meer soos ʼn valstrik lyk.

In Gauteng en die Wes-Kaap, waar besigheidsaktiwiteite sterker is, is afhanklikheid van welsyn laer (26,9% en 24,4%). In plekke soos Oos-Kaap (52,9%) en Limpopo (50,4%) is dit hoër – juis omdat die ekonomie daar feitlik dood is en geen poging aangewend word om lewe in die ekonomie in te blaas nie. Dit behoort vir enige regeringsamptenaar ʼn duidelike boodskap te stuur: waar daar geleenthede is, is mense minder afhanklik van die staat.

Tog beweeg die regering in die teenoorgestelde rigting: eerder as om geleenthede te skep, brei hulle welsyn uit en kweek groter afhanklikheid van die staat wat op die ou einde die middelklas-burger die meeste raak deur toenemende belasting en kostes om die welsyn te finansier.


Die illusie van staatsgeleide werk

Die ANC en nou ook die breër regering van nasionale eenheid (RNE) hou vol dat hulle besig
is om werk te skep deur staatsintervensies en werksprogramme. Maar dit is ʼn illusie. Die staat skep nie volhoubare werksgeleenthede nie – slegs die privaat sektor kan dit doen.

Elke staatswerknemer moet uit belastinggeld betaal word. Maar as werkloosheid hoog is en die belastingbasis krimp, wie betaal dan hierdie poste? Dit is ʼn finansiële piramideskema wat uiteindelik sal ineenstort. Werklike, volhoubare groei kan slegs plaasvind as die private sektor vry is om te floreer, uit te brei en vertroue het om plaaslik te belê sonder dat die regering wat oor die privaat sektor se skouer loer en inmeng.

Slotgedagtes

Die Suid-Afrikaanse regering staan voor ʼn kruispad: Gaan ons voort met ʼn model van staatsafhanklikheid en ekonomiese stagnasie? Of gaan ons uiteindelik die waarheid aanvaar dat die privaat sektor die enigste pad na werklike ekonomiese herstel is?

As ons aanhou om die ekonomie soos ʼn sinkende skip te bestuur – met meer staatsingryping, hoër belasting, en groter afhanklikheid van welsyn – sal die water binnekort te hoog wees om uit te skep en die skip en sy bemanning sal verseker sink. Maar as ons bereid is om die private sektor se hande te los te maak, regulasies te verminder, entrepreneurskap aan te moedig en te belê in onderwys en vaardigheidsontwikkeling, kan Suid-Afrika weer op koers kom voor dit te laat is.

Die keuse is duidelik: ʼn land wat op sy mense se skeppingskrag bou, of ʼn land wat sy mense leer om van die staat afhanklik te wees. Die een rigting lei na groei, die ander na verval!

About FREE SA

At the Foundation for Rights of Expression and Equality (Free SA) we are committed to empowering South Africans to have their voices heard.

In a true democracy, every opinion counts, and we ensure your voice resonates where it matters most: in Parliament, in public policy, and in the laws that shape our country.

From advocating for democracy and equality to holding the government to account, we stand with you to demand transparent, responsive, and fair governance that serves its people.

Active Campaigns

Through our public participation campaigns, we ensure your voice is heard where it matters most—in Parliament and beyond. 

Fuel the movement. Empower change.

Your contribution ensures that FREE SA can continue to fight for your rights. From public awareness campaigns to legal battles, every rand helps us protect democracy and equality. 

Stay informed. Stay empowered.

Sign up for our newsletter to get the latest campaigns, polls, and updates on our advocacy efforts, sent directly to your inbox.