Deur Reuben Coetzer, woordvoerder vir Free SA
Min onderwerpe wek soveel politieke emosie in Suid-Afrika soos grondhervorming. Die ANC dring daarop aan dat grond die mees fundamentele uitdaging en probleem van ons tyd is en dat radikale staatsinmenging en wetsontwerp nodig is om die foute van die verlede reg te stel.
Dit is die regverdiging agter ʼn menigte grondhervormings- en voorgestelde wette, van die wet op herstel van
grondregte tot die onlangs ondertekende Onteieningswet (2025) en die dreigende wet op gelyke toegang tot grond wat (gebaseer op wat tans hieroor bekend is) eerder as om die foute van die verlede reg te stel die teendeel regkry en die belofte van ons Grondwet op ʼn gelyke, nie-rasgebaseerde samelewing ondermyn.
Tog, ten spyte van hierdie omvattende wetgewende pogings, het grondhervorming grootliks misluk. Die vraag is hoekom en die antwoord is eenvoudig en ongerieflik: die meeste Suid-Afrikaners wil in werklikheid nie grond hê nie. Die oorgrote meerderheid van grondeisers kies eerder finansiële vergoeding as fisiese grond sonder enige vaardigheidsontwikkeling wat daarmee saamkom. En diegene wat wel grond ontvang, bevind hulself dikwels in ʼn situasie waar hulle dit nie kan bewerk nie, weens ʼn giftige kombinasie van wanbestuur, korrupsie en ʼn gebrek aan staatsondersteuning om individue toe te rus met die nodige vaardighede en toerusting om ʼn sukses daarvan te maak.
Die werklike kwessie is nie grond nie – dit is ekonomiese geleenthede. Maar die regering, vasgevang in ʼn mite eerder as die werklikheid, bly ʼn verouderde ideologie nastreef wat niks doen om die mees kwesbare individue in ons samelewing op te hef nie en in plaas daarvan die ekonomie aktief benadeel. Dit is ʼn situasie waarin almal wat betrokke is verloor, behalwe die regering. Die fokus moet eerder daarna verskuif om arm individue in ons samelewing toe te rus met vaardighede en praktiese ervaring om die werkersmark te kan betree, die kettings wat die privaat sektor terughou te laat staan en die privaat sektor toe te laat om uit te brei, met mekaar mee te ding en werk te skep sonder konstante staatsinmenging en inperking en laastens baie belangrik daar moet wilskrag van die regering wees om eiendomsreg te beskerm en so buitelandse belegging meer aanloklik te laat lyk.
ʼn Kort geskiedenis van mislukking
Suid-Afrika se grondhervormingspogings ná 1994 is gebou op drie sleutelpilare:
- Herstel – om grond (of vergoeding) terug te gee aan die nageslag van diegene waarvan grond ná 1913 ontneem is.
- Herverdeling – om grond aan te koop en dit aan swart Suid-Afrikaners oor te dra om te bewerk en te ontwikkel.
- Verblyfsekerheid – om grondregte vir mense op gemeenskaplike of staatseiendom te verseker.
Nie een van hierdie pilare het hul teikens bereik nie. Volgens regeringsyfers is daar teen 2020 slegs 6,3 miljoen hektaar privaat grond oorgedra onder die herverdelingsprogram, ver onder die 30%-teiken wat alreeds teen 1999 behaal moes word. Baie van hierdie projekte het ineengestort weens wanbestuur en korrupsie. Intussen het verblyfsekerheidshervorming tot stilstand gekom, wat miljoene mense in landelike gebiede sonder enige wettige aanspraak op die grond waarop hulle woon, gelaat het.
Die kernrede vir hierdie mislukking is nie boere wat vashou aan hul grond of ʼn gebrek aan staatsmiddele om bystand te bied nie. Dit is die staat se onvermoë om doeltreffende beleid te implementeer. Die regering se obsessie met rasgebaseerde herverdeling het rampspoedige gevolge gehad, insluitend produktiewe plase wat oorgedra is aan individue sonder enige landbouvaardighede, met die gevolg dat hierdie plase in verval, verval het wat ʼn direkte impak het op voedselsekerheid vir elke Suid-Afrikaner.
Die mite van die behoefte aan grond
Die grootste bewys van die mislukking van die staat se grondhervormingspogings is die feit dat, wanneer mense ʼn keuse kry, die meeste mense nie grond wil hê nie.
Sedert die 1990’s het die oorgrote meerderheid van grondeisers finansiële vergoeding bo fisiese grondherstel gekies. Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het meer as 92% van alle grond-eise sedert 1994 gelei tot kontantvergoedings in plaas van grond.
As grond regtig die sleutel tot ekonomiese bemagtiging was, hoekom verwerp mense dit? Die antwoord is prakties. Die meeste stedelike eisers wil nie na landelike gebiede verhuis nie, aangesien hul lewens en inkomste aan die stede verbind is. Baie het geen landbou-ervaring nie en sien min waarde in grond wat hulle nie kan bewerk nie. In plaas daarvan kies hulle finansiële vergoeding om hul bestaande omstandighede te verbeter. Vir die meeste is toegang tot werksgeleenthede, infrastruktuur en betroubare dienslewering in stedelike gebiede baie meer waardevol as grondbesit.
Tog weier die regering om hierdie werklikheid te erken. In plaas daarvan dring dit aan op rasgebaseerde grondbeleide wat ʼn politieke narratief dien eerder as om die werklike behoeftes en strewinge van die mense van ons land aan te spreek. Die huidige grondhervormingsmodel gaan nie oor ekonomiese bemagtiging nie; dit is ideologiese manipulasie wat vasklou aan die misleidende idee dat grondbesit, en nie toegang tot ekonomiese geleenthede nie, die sleutel tot vooruitgang is.
Die werklike grondkrisis
Waar grondhervorming wel plaasgevind het, was die resultate grootliks rampspoedig. Die mislukkingskoers van plase wat deur die hervormingsproses is, word geskat op tussen 70% en 90%. Plase wat eens hoogs produktief was, het in woestyne verander weens ʼn gebrek aan ondersteuning en praktiese leiding, swak bestuur en burokratiese onbevoegdheid.
Daar is talle voorbeelde van hierdie mislukking:
- Die Mala Mala-skandaal – Die staat het R1 miljard bestee om die luukse Mala Mala-wildreservaat vir grondeisers aan te koop, maar die projek het misluk weens ʼn gebrek aan besigheidsvernuf, bestuur en ondersteuning deur die regering.
- Die Gwatyu-plaasramp – 42 000 hektaar is aan gemeenskappe in die Oos-Kaap oorgedra, maar as gevolg van regeringswanbestuur bly die grond onproduktief.
- Die versuim om ondersteuning ná grondoordrag te bied – Die staat gee gereeld grond oor sonder om nuwe eienaars van die nodige opleiding, kapitaal, toerusting of infrastruktuur te voorsien om suksesvolle plase in die langtermyn te bedryf.
Suid-Afrika het nie ʼn tekort aan grond nie, maar ʼn tekort aan bevoegdheid. Die regering se benadering is om bloot eienaarskap te verskuif sonder om die omstandighede vir produktiwiteit te skep. Dit herstel nie ongeregtighede nie – dit skep nuwes waarvoor die regering nuwe ingrypingsinisiatiewe wil skep wat in ʼn rampspoedige sneeubal-effek ontaard vir Suid-Afrikaners en die Suid-Afrikaanse ekonomie.
ʼn Beter benadering
As die regering werklik ongelykheid wou aanspreek, sou dit rasgebaseerde grondherverdeling laat vaar ten gunste van breë ekonomiese groei. Die werklike pad na bemagtiging lê in die versekering van titelaktes vir miljoene swart landsburgers wat reeds op gemeenskaplike grond woon. Grond sonder veilige eienaarskap verseker dat kapitaal nie ontsluit kan word nie.
Vaardigheidsontwikkeling en landbou-ondersteuning moet voorrang geniet bo arbitrêre grondoordragte met die fokus om individue toe te rus om in die langtermyn selfstandig en volhoubaar vir hulself en hul gemeenskap te kan sorg. Om plase oor te dra aan individue sonder die nodige opleiding of hulpbronne stel hulle net bloot aan mislukking. Grondhervorming moet belê in landbou-onderrig, mentorskap en toegang tot finansiering vir mense wat werklik in boerdery belangstel.
Infrastruktuurontwikkeling bly ʼn veel groter struikelblok vir ekonomiese vooruitgang as grondbesit. Baie landelike gebiede sukkel nie omdat hulle nie grond besit nie, maar omdat hulle nie basiese dienste soos paaie, elektrisiteit en water het om effektief as ʼn gemeenskap te kan funksioneer nie.
Industrialisasie en werkskepping moet die kern vorm van enige strategie om armoede op te los deur bemagtiging. Die meeste mense stel nie belang in bestaansboerdery nie – hulle wil werk hê, ekonomiese mobiliteit geniet en toegang hê tot geleenthede.
Gevolgtrekking
Die Suid-Afrikaanse regering is obsessief oor grond, nie omdat dit die belangrikste kwessie is nie, maar omdat dit polities nuttig is vir hul voortbestaan. Dit laat die regerende party toe om ekonomiese probleme op die verlede te blameer, eerder as om sy eie mislukkings te erken. Maar die feite is duidelik.
Die meerderheid grondeisers wil eerder geld as grond hê. Die regering se grondhervormingsprojekte stort in duie onder wanbestuur en korrupsie. Rasgebaseerde herverdeling ondermyn eiendomsregte, ontmoedig beleggings en bedreig voedselsekuriteit.
Suid-Afrika moet eerder fokus op ekonomiese groei, werkskepping en werklike bemagtiging van vaardighede en kennis. Hierdie land het nie nog ʼn grondhervormingswet nodig nie. Dit het bevoegde bestuur en ʼn duidelike besigheidsgunstige ekonomiese beleid nodig.