Suid-Afrika se probleme is geen lone, nie lae lone nie

Paul Maritz

Deur Paul Maritz, Free SA direkteur

Die minister van arbeid, Nomakhosazana Meth, het onlangs aangekondig dat die nasionale minimumloon verhoog sal word met 4,4%. Na afloop van hierdie verhoging, so spog haar party, is die nasionale minimumloon nou R28,79 per uur. Haar departement is egter verkeerd.

Die werklike minimumloon in Suid-Afrika is nie R28,79 per uur nie – dit is R0,00 per uur, per dag, en per maand. Hierdie ronde nulle is die koue harde werklikheid vir miljoene werklose Suid-Afrikaanse burgers.
Die nuwe minimumloon is nie net ʼn dwase beleidsbesluit in ʼn reeds sukkelende ekonomie nie, maar dit is ook – soos deur Free SA uitgewys – ongrondwetlik en onwettig uitgevoer. Die wet vereis publieke deelname, parlementêre oorweging en die publikasie van die finale verslag deur die nasionale minimunloonkommissie voordat enige verandering geïmplementeer mag word. Minister Meth het al hierdie wetlike vereistes eenvoudig geïgnoreer.

Met die eerste oogopslag lyk dit dalk asof ʼn verhoging in die minimumloon ʼn goeie en selfs edele idee is. Die arme werker het nou skielik meer in sy sak as vantevore, dis mos goed, nie waar nie? Die werklikheid is ongelukkig nie so eenvoudig nie, en ontnugterend vir diegene wat dink ʼn toename in lone sal tot ʼn afname in swaarkry lei. Suid-Afrika se probleem is nie lae lone nie. Dit is geen lone, dit is die volle afwesigheid van ʼn werk of werksgeleenthede.

Die motivering vir ʼn minimumloon is eenvoudig: ʼn Werknemer verdien meer, en dus moet sy of haar lewensgehalte verbeter, nè? Nee. Hierdie logika ignoreer die bron van indiensneming – dit vraag na arbeid. As ʼn werkgewer nie ʼn werknemer se produktiwiteit teen ʼn hoër loon kan regverdig nie, sal daardie werknemer eenvoudig nie aangestel word nie. Dit is nie ʼn wraaksugtige daad van gierige kapitaliste nie, maar ʼn rasionele besigheidsbesluit.

Ek sou byvoorbeeld kon bekostig om 100 werkers teen R25 per uur aan te stel, maar as die koste skielik styg na R30 per uur, kan ek vir my oorspronklike begroting net 83 werkers aanstel. Ek staan dus voor ʼn keuse: Of ek verhoog die prys waarteen ek my produk verkoop, ten einde die nuwe loon te betaal, wat natuurlik die vraag na my produk sal laat daal, of ek stel 17 minder werkers aan en los my prys soos dit is. My probleem is nou natuurlik dat ek minder personeel het, so my produksie ly daaronder.

Uiteindelik lei hierdie siklus tot baie maatskappye se besluit om eenvoudig hul produkte elders te laat produseer en dan na Suid-Afrika te laat verskeep, wat nie net die 17 families raak nie, maar sommer al 100. Die onrealistiese minimumloon word ʼn rem op ʼn ekonomie waarvan die ribbekas alreeds uitsteek.

Terug na lone. Volgens regeringsyfers het Suid-Afrika in 2024 omtrent 280 000 werksgeleenthede verloor weens die vorige minimumloonverhoging. Dis nie net ʼn koue stuk statistiek nie – dis 280 000 mense wat hulle inkomste verloor het en waarskynlik in die informele sektor of by welsynsprogramme skuiling moes soek, of, in ekstreme gevalle, na misdaad moes keer. Ironies genoeg toon beramings dat 5,3 miljoen mense in elk geval reeds minder as die wetlike minimumloon verdien. Dit beteken dat hierdie regulasies eenvoudig geïgnoreer word deur kleiner ondernemings wat minder skrikkerig vir regulasie en boetes is.

Hierdie vyf miljoen mense bevestig my punt: Minimumlone, en wette oor minimumlone skep nie werk nie — dit skep ʼn mark waarin mense sonder regte, sonder wetlike beskerming en sonder enige sekerheid moet werk – te dankbaar vir ʼn dagloon, te bang om piep te maak dat dit maar net ʼn dagloon is. So word die groue werklikheid vir baie mense dus nie die keuse tussen ʼn sogenaamde leefbare loon en onleefbare loon nie, dit word ʼn vurk in die pad, met ʼn broodkrummelsalaris onder die tafel aan die een kant, en ʼn bordjie vol niks aan die ander kant.
Suid-Afrika se ekonomie is reeds ʼn verdeelde sisteem waarin die formele en informele sektore langs mekaar bestaan – die een met verstikkende regulasies, die ander met sy eie uitdagings. Die formele sektor word gesmoor met wetgewing soos minimumloonverhogings, SEB-vereistes en ingewikkelde arbeidswetgewing, terwyl die informele sektor floreer juis omdat dit hierdie wette systap.

Dankie tog, want hierdie informele sektor skep geleenthede vir miljoene wat deur hierdie al te wyse beleide uit spel gehou word. Dit is ʼn wafferse illusie om te glo dat ʼn hoër minimumloon mense in goeie werksgeleenthede sal dwing; eerder dwing dit hulle uit die formele sektor, dieper in informele arbeid of in werkloosheid in.

Dit bring ons dan by FreeSA se standpunt: As die informele sektor die enigste plek is waar werksgeleenthede werklik toeneem, moet ons nie liewer kyk hoe ons bestaande regulasies kan verminder ten einde hierdie werkgeleenthede na die formele sektor te bring nie? Moet ons nie ʼn bietjie ruimte laat vir die mark om self die prys te bepaal nie?


Die minimumloon as ʼn toegangshindernis

Wat gebeur as iemand bereid is om vir minder as die minimumloon te werk, maar nie mag nie? Of as ʼn werkgewer bereid is om iemand vir ʼn laer loon aan te stel, maar verbied word?Die antwoord is eenvoudig: daardie werksgeleenthede word eenvoudig nooit geskep nie.

Hierdie verskynsel, wat dikwels as die “barrier to entry” van die arbeidsmark beskryf word, is een van die mees onderbeligte probleme in die minimumloondebat. Werk is dikwels ʼn spektrum van vaardigheidsontwikkeling: iemand begin met ʼn laer loon, maar leer ʼn vaardigheid, bewys hulself, en werk hulself op. Wanneer die staat egter die ingangsvlak van die mark verhoog, sny dit heeltemal die geleentheid af vir mense wat bereid is om teen laer lone in te kom en op te werk.


Waarheen nou?

As minimumloonverhogings werkskepping en ekonomiese groei sou bevorder, sou Suid-Afrika vandag een van die suksesvolste ekonomieë ter wêreld gewees het. In plaas daarvan sukkel ons ekonomie onder ʼn kombinasie van slegte en ideologies-behepte beleid, wanbestuur en ʼn politieke klimaat wat die arbeidsmark eerder kniehalter as aanmoedig.

Om werklik vooruit te beweeg, moet ons die arbeidsmark dereguleer en besef dat nie elke werk ʼn  hoë-loon kan wees nie – dit is beter om mense aan die werk te kry en hulle die kans te gee om die werksmag te betree as om hulle heeltemal uit te sluit.

Volgende moet ons besigheidsregulasies vereenvoudig, aangesien klein ondernemings, wat die ruggraat van werkskepping behoort te wees, sukkel om wettig te funksioneer weens ʼn oorvloed van regulasies en buitensporige kostes.

Derdens moet ons ʼn ernstige belegging maak in vaardigheidsontwikkeling, aangesien ʼn gebrek aan toepaslike vaardighede een van die grootste hindernisse vir hoër inkomste is.

Ten slotte moet ons die informele sektor nie langer as ʼn probleem beskou nie, maar eerder ʼn noodsaaklike deel van die ekonomie wat erken, ondersteun en geïntegreer moet word sodat meer mense ʼn volhoubare bestaan kan maak.

Gevolgtrekking

Minister Meth se besluit om ʼn minimumloonverhoging in te stel, is nie net effens onkundig nie, dit is ekonomies rampspoedig. Dit is ʼn beleid wat werk vernietig in ʼn land wat reeds diep in ʼn werkloosheidskrisis gedompel is. Suid-Afrika kan nie bekostig om voort te ploeter met beleid wat keer op keer misluk nie.

Die waardigheid van werk lê nie in die woorde van ʼn staatskoerant nie, en welvaart kan nie bloot deur regeringsbesluite geskep word nie. Suid-Afrika se pad uit massawerkloosheid lê nie in die afdwing van hoër lone nie, maar in die verseker dat meer mense die kans het om hulle te verdien. ʼn Arbeidsmark wat inklusiwiteit bo ideologie en geleenthede bo regulasie stel, is die enigste werklike oplossing. Totdat dit gebeur, sal die land se minimumloon vir miljoene Suid-Afrikaners presies dit bly – niks.

About FREE SA

At the Foundation for Rights of Expression and Equality (Free SA) we are committed to empowering South Africans to have their voices heard.

In a true democracy, every opinion counts, and we ensure your voice resonates where it matters most: in Parliament, in public policy, and in the laws that shape our country.

From advocating for democracy and equality to holding the government to account, we stand with you to demand transparent, responsive, and fair governance that serves its people.

Active Campaigns

Through our public participation campaigns, we ensure your voice is heard where it matters most—in Parliament and beyond. 

Fuel the movement. Empower change.

Your contribution ensures that FREE SA can continue to fight for your rights. From public awareness campaigns to legal battles, every rand helps us protect democracy and equality. 

Stay informed. Stay empowered.

Sign up for our newsletter to get the latest campaigns, polls, and updates on our advocacy efforts, sent directly to your inbox.